ʼn Jong koei van Virginia in die Vrystaat wat drie dae lank in ʼn diep waterkanaal vasgekeer was, het nou die kans op ʼn nuwe lewe danksy die onbaatsugtige optrede van ʼn groep dapper mans en vroue uit dié gemeenskap.

Thea Smit, voorsitter van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Virginia, was Saterdag nog oorweldig deur die ure lange
reddingspoging wat Vrydagnag afgespeel het om die koei te red. “Hierdie manne wat haar gered het, is vreesloos. Hulle is net ongelooflik. Saam met hulle sal ek oorlog toe gaan!” sê sy.

Smit vertel die koei het Dinsdag in die waterkanaal beland wat deur die Sandvet Watergebruikersvereniging bestuur word. Die kanaal loop ondergronds en openinge word met groot mangatdeksels bedek, maar dié word gereeld afgesteel.

Smit verduidelik die koei het vermoedelik Dinsdag in een van die mangate wat oop was, ingeval en só in die waterkanaal beland. Sy het minstens 3 km ver al langs die kanaal gestap, maar daar was geen manier dat sy kon uitkom nie. Vrydag het ʼn jong seun van die gemeenskap naby ʼn oop mangat na erdwurms gaan soek toe hy die koei van onder in die kanaal hoor bulk het.

“Hy het die DBV laat weet en ons is dadelik uit na die toneel om te probeer help,” sê Smit. Hulp was egter nie maklik bekombaar nie. Smit het begin deur die SAPD te nader, asook die brandweerdienste. Hulle was egter nie bereid om te help nie, sê sy. “Die polisie het gesê dit is lewensgevaarlik om hul duikspanne daar te laat ingaan en hulle was net nie bereid om daardie risiko te waag nie,” sê sy.

ALSO READ  Man in hospital after lion attack at Tikwe River lodge

Dit is toe dat Smit haar tot sosiale media gewend het. “Is daar enige waaghalsige mense wat dalk kan help?” het sy by haar inskrywing geskryf. Minute later het die hulp begin instroom.

Smit vertel dat die reddingspanne van myne in die omgewing, beter bekend as Proto-spanne, onmiddellik ingestem het om te help. Proto-spanne van die Masimong-myn, Beatrix-myn en Joel-myn was kort daarna op die toneel en daar is planne beraam om die koei uit die water, wat 1,8 m diep is, te kry.

Mornay du Plessis het die hulp tussen die verskillende myne se Proto-spanne gekoördineer, terwyl Ernest Khakha, inspekteur van die Virginia DBV, en Mandela Phakira, veldoffisier van Virginia DBV, hand bygesit het.

ʼn Hyskraan en veeldoelige laaigraaf (TLB) is laat kom. Smit sê die hyskraan het aanvanklik vasgeval en die laaigraaf moes gebruik word om dit weer uit te lig.

“Die reddingsoperasie het ure geneem. In ʼn stadium wou ek amper moed opgee, want ek het gedink die koei het verdrink. Ons kon haar glad nie meer hoor of sien nie. Maar Ernest wou nie moed opgee nie. Hy het lusern gaan haal en dit laat afsak in die gat – en dit is toe dat sy die lusern ruik en teruggestap kom na waar ons haar weer kon sien,” sê Smit.

Intussen het André Fouche, Danie van der Watt en Peet Eloff ingestem om in die gat afgesak te word om by die koei te waak. Hulle het ʼn lap om haar oë gebind om haar te kalmeer en haar kalm en rustig gehou totdat die hyskraan gereed was om haar uit te haal.

ALSO READ  How to correctly navigate a traffic circle

Bande is om die koei gebind en sy is stadig maar seker uit die gat getrek na veiligheid toe. Dit was ongeveer middernag toe die koei uit die kanaal gebring is, ʼn volle tien uur nadat sy gevind is.

“Sy was baie ontwater, seer en swak. Ons het haar dadelik antibiotika ingespuit en haar glukose en vitamiene ingegee. Sy was egter te swak om op te staan en ons wou nie die kans waag om haar in ʼn vervoerwaentjie te sit terwyl haar toestand so swak is nie.”

Dus het Khakha, Phakira, en nog ʼn DBV-werknemer, Samuel, ingestem om die hele nag deur by die koei te waak. “Hulle het eintlik laer getrek om haar om seker te maak niemand doen haar leed aan nie en het deurnag daar by haar gesit,” sê Smit.

Die koei, wat intussen Mina Moo gedoop is, is steeds daar waar sy uit die gat gelig is. Volgens Smit wag hulle dat sy eers sterker word voordat hulle haar na die DBV se perseel sal vervoer waar sy verder behandeling sal ondergaan.

“Ons dink sy is ongeveer so drie jaar oud. Wanneer sy heeltemal gesond is, sal ons met die eienaar onderhandel sodat sy beskikbaar gestel kan word vir aanneming. Ná alles waardeur sy is, wil ons nie hê sy moet net teruggaan en op iemand se bord beland nie. Ons sal graag wil hê dat sy na ʼn huis gaan waar sy iemand se troeteldier kan wees.”

Smit sê sy is steeds verstom oor die dapperheid en onbaatsugtige optrede van die Proto-spanne en almal andersins wat so gewillig hulp aangebied het. “Ek het regtig nie woorde nie; wat gisteraand hier gebeur het, was net ongelooflik. Jik Riesenbeeck, André, Danie, Peet, Mole×, William, Mandela … Daar was soveel mense wat gehelp het, dit is onmoontlik om elkeen by die naam te noem. Maar vir elke liewe persoon se bydrae en hulp is ek ongelooflik dankbaar.”

ALSO READ  Welkom Communities Policing Forum launches Control Room and App for Safer City

Enigiemand wat die Virginia DBV wil bystaan met finansiële skenkings vir Mina Moo se sorg en behandeling, kan hulle by 079 776 1153 nader.

Maroela

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here