Plant ʼn spekboom en maak ʼn verskil

Jy het al gehoor van ʼn spekboom, maar waaroor al die bohaai? Of jy dit nou spekboom of olifantkos noem, hierdie ongelooflike plant met sy helder groen, sirkelvormige blare hoort in elke Suid-Afrikaanse tuin.

Die spekboom (Portulacaria afra) bevorder die gehalte van die lug wat ons inasem en help teen klimaatsverandering.

Die spekboom het die vermoë om tussen vier en tien ton koolstof per hektaar in te neem. Dit werk soos ʼn spons wat koolstof uit die atmosfeer absorbeer. Oortollige koolstof in die atmosfeer is verantwoordelik vir aardverwarming, so hoe meer koolstof ons uit die lug kan verwyder en in die grond kan terugsit, hoe beter.

Die spekboom is ʼn eg Suid-Afrikaans plant

Die spekboom is inheems aan die Oos-Kaap, waar olifante dit as ʼn heerlike snoepery beskou.

Dit is waterwys

Die spekboom is waterwys en verg baie min onderhoud. Dis maklik om te kweek, want selfs die blare of stukkies van die plant wat op die grond beland, sal worteltjies maak. Die plant is droogtebestand en kan op 250 tot 350 mm water per jaar oorleef.

Geskik vir alle seisoene en weerstoestande
Die spekboom het ʼn fotosintetiese meganisme wat die plant toelaat om by verskeie toestande aan te pas en maak dit ongelooflik aanpasbaar en geskik vir enige tuin. In die nat koue maande sal die spekboom fotosintetiseer deur huidmondjies deur die dag te open en koolstof te absorbeer. Gedurende droër tye gebeur dit gedurende die nag om die verlies van water gedurende die dag te verhoed.

Dis maklik om ʼn spekboom te kweek

ALSO READ  Structural collapse kills pupils at Vanderbijlpark school

Die spekboom kan maklik gekweek word. Sny of breek ʼn stukkie van die spekboom af, laat dit so vir een of twee dae uitdroog en druk dit dan in die grond. Gee dit bietjie water en binne ʼn paar dae sal jy jou eie spekboom hê. Maak seker jy gee dit nie te veel water nie, anders sal dit verrot. Spekbome aard in die meeste grondsoorte mits die dreinering goed is. Onthou, enigiemand wat ’n spekboom plant, doen die wêreld ʼn guns.

Die spekboom is ʼn veelsydige plant
Of jy nou soek na ʼn plant wat jy as ʼn heining of ʼn bonsai kan gebruik of as grondbedekking of ʼn groot bos, die spekboom is geskik vir alles. Die spekboom het in die somer fyn pienk blommetjies en is ook ʼn pragtige potplant. Dit reageer goed as dit gesnoei word en groei baie dig, wat dit die ideale heining maak. Dit kan ʼn hoogte van tot twee meter bereik.

Jy kan ʼn spekboom eet

Dit is nie ideaal om ʼn hele bord spekboom op te eet nie, maar dit is eetbaar en het ʼn ligte sitrusagtige smaak. As jy ooit daaraan dink om deur die Karoo te stap, kan jy aan ʼn blaar van ʼn spekboom suig – tradisioneel word dit gebruik om uitputting en dehidrasie te behandel.

Wetenskaplikes het reeds in die 1960’s en 1970’s agtergekom die spekboom werk anders as ander plante. Wat die spekboom nog meer spesiaal maak, is dat sy humus nie kan brand nie. ʼn Vuur kan dit dus nie vernietig nie en sy organiese materiaal sowel as die koolstof wat uit die lug opgeneem is, word uiteindelik in die grond opgeberg.

ALSO READ  Driehoek-ma se volle verklaring oor BLF

Bronne

Indigenous Flora, Spekboom.com and Times Live

www.all4women.co.za
http://www.kaapkerk.co.za/wp/wp-content/uploads/2015/02/Spekboom-Uitdeelstuk.pdf