Spotlight On Wiaan Fourie – DZL

ONTMOET DZL

Dis nou nie iets wat jy aldag raakloop nie; twee sangers wat ook gerekende modelle is. Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie het in September 2014 vir die eerste keer saam op die verhoog verskyn nadat Wiaan die plek moes inneem van Andries se kitaarspeler, wat ’n dubbele bespreking gemaak het. Hulle het kort daarna ’n kontrak met ’n platemaatskappy gesluit. Hul debuutalbum, DZL, het in 2016 die lig gesien en is vir twee Ghoema-toekennings benoem insluitende Beste Country Album. Hulle tweede album, Realiteit, is in April 2018 vrygestel en talle snitte van die album was as top enkelsnitte deur radiostasies regdeur die land aangewys.

DZL IN HUL TENK

Die naam DZL (uitgespreek as Diesel) is iewat ongewoon maar Andries verduidelik dat dit die perfekte keuse was. “Ons is albei internasionale loopplankmodelle en die modehandelsmerk Diesel is baie bekend in die bedryf,” vertel Andries. “Ons is ook lief vir die bos, renosterbewaring en natuurlik vir 4×4-ritte – daarvoor het jy ‘diesel’ nodig. Ons naam is daarom ’n samevatting van wie ons is: DZL op die loopplank, DZL in die bos en DZL op die verhoog!”

SANG IS IN HUL BLOED

Wiaan het in ’n musikale familie grootgeword. Sy pa, Louis, was ook in ’n musiekgroep, Night Train. Wiaan is ’n gebore Vrystater van Welkom maar woon die afgelope vyf jaar in Gauteng. Andries is ’n regstreekse afstammeling van die Voortrekkerleier met dieselfde naam. Hy is in Witbank gebore en na ‘n paar jaar in onder andere Jeffreysbaai, Polokwane en Johannesburg het hy sy tentpenne nou in Pretoria ingeslaan.

ALSO READ  New school to be opened by President Ramaphosa on Sunday in Thabong

SPIERTIERE

Die manne is passievol oor ’n gesonde leefstyl. Hulle sweet drie uur per dag, sewe dae per week in die gim. Die tydskrif Cosmopolitan het Andries ook in 2016 as die sexyste man van die jaar aangewys. Wiaan is in 2017 vir die Top 20 van Men’s Health se voorblad gekies.

LEK JOU LIPPE AF

Die manne het al hul slag in die kombuis gewys in die VIA-kookprogram Lek Jou Lippe Af. Wiaan was die wenner van die tweede seisoen van dié program.

BOS-LIEFHEBBERS

Wanneer hulle die kans kry, sit hulle af bos toe. Hulle is ambassadeurs vir ‘n verskeidenheid van natuurprojekte wat ook wat renosterstropery probeer bekamp. Hulle het ook ’n renostertjie wat na hulle vernoem is, klein DZLtjie of #DZLnoster.

Instagram: dzl_band
Webwerf: www.dzlband.co.za